Oor ons

Leer ons ken.

Ons is ’n klein gesinsonderneming gesetel in die mooi dorpie Suurbraak in die Wes-Kaap. Ons het agting vir die lewe, hetsy diere, plante of mense. Ons hou van (die) wild(e)lewe en ons is verknog aan woorde! Ons is verbind daartoe om met ons jare lange ondervinding in beide die opvoedkundige en uitgewersfere ’n opbouende bydrae tot die wêreld te lewer.

Lees meer oor ons hier onder.

Lise Fourie

Lise Fourie

Lise Fourie

Lise Fourie behaal ’n B.Sc.-graad aan die Universiteit van Stellenbosch met hoofvakke Chemie en Wiskunde. Haar eerste werk was as skeikundige by Yskor, later Mittal Steel. Ná sy haar aan privaatlesse, deeltydse onderwys, boekhouding en die bestuur van ’n dorpskoerant waag, begin sy in 2000 voltyds skoolhou en verkry spoedig daarna haar NOS.

Ná meer as agt jaar se onderrig van Wetenskappe en Wiskunde sluit sy by die opvoedkundige-publikasiespan van Oxford University Press aan. Sy werk aan skoolhandboeke en laboratoriumgidse vir verskeie Wetenskapvakke. In 2011 skuif sy oor na Maskew Miller Longman, later Pearson, waar sy uiteindelik verantwoordelik is vir al die Wetenskap- en Tegnologieprodukte vir Suid-Afrikaanse hoërskole.

Lise begin in 2018 met haar eie onderneming en voorsien outeurs- en redaksionele dienste aan Cambridge University Press, Oxford University Press, Edukite en Siyavula. Sy onderrig vir ses maande deeltyds Fisiese Wetenskappe by Bosmansdam Hoërskool, totdat ’n voltydse onderwyser aangestel kon word. Daarna sluit sy by Shuter & Shooter Publishers se span aan. Sy is verantwoordelik vir al die Wetenskappe-, Wiskunde- en Tegnologieprodukte vir die Suid-Afrikaanse mark, van graad 1 tot 12. In 2024 lê haar span vir die Grondslagfase Wiskunde in sewe tale en Kodering & Robotika in vyf tale aan die Departement van Basiese Onderwys voor. In Maart  2025 word al die voorgelegde komponente voorwaardelik aanvaar vir opname in die Nasionale Katalogus.

Fred Pheiffer

Fred Pheiffer

Fred Pheiffer

Fred Pheiffer studeer aan die Universiteit van Kaapstad waar hy ’n MA in Linguistiek verwerf. Van 1989 tot 1992 doseer hy by Wits in die Departement Afrikaans & Nederlands. In 1994 word hy deur die Parlement van Suid-Afrika in die Hansardafdeling aangestel as vertaler, taalversorger en tolk.

In 1999 sluit hy by Pharos Woordeboeke aan as mederedakteur en samesteller van die Pharos Afrikaans‍-‍Engels-Engels-Afrikaanse Woordeboek, die leier in sy klas. In 2008 word hy deur Oxford University Press as projekbestuurder gewerf vir die Oxford Bilingual School Dictionary: isiZulu and English, die eerste heeltemal nuwe isiZulu-Engelse woordeboek in vier dekades. Hy was ook mederedakteur en samesteller van die Oxford South African School Dictionary en die Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek. Op soek na ’n nuwe uitdaging sluit hy in 2012 by Pearson aan as mederedakteur van die Handwoordeboek van die Afrikaans Taal (HAT). Sedert 2018 is hy redaksielid van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT).

Fred doen sedert die 1990’s ook vryskuttaalwerk, onder meer vir Tafelberg, Human & Rousseau, Umuzi, Protea, Penguin, New Media Publishers, Shuter & Shooter en die Stad Kaapstad. Hy was lid van die taalversorgingspan vir die Bybelgenootskap se 2020-Bybelvertaling. Hy is tans lid van die SA Akademie se Taalkommissie en skryf elke maand vir Netwerk24 ’n rubriek oor aspekte van taal.

Lady

Lady

Lady

In 2022 kom die Fisantekraal Animal Welfare op Lady af waar sy op straat ronddwaal, vaal van die honger en hoog swanger. Ná haar werpsel gebore is, is sy wéér verlate aangetref.

Nietemin, op Suurbraak ontdek sy haar ware self. Sy is ’n waterdier wat dolgraag met haar mense in die rivier swem. Sy staan wag sodat haar mense veilig voel terwyl hulle by hul rekenaars swoeg.

Laika

Laika

Laika

Laika is op 1 Januarie 2011 in ’n agterplaas in Kuilsrivier gebore, ure ná die res van haar boeties en sussies, boonop met ’n gebreekte stertjie.

In haar permanente tuiste het sy gou seker gemaak dat sy as Haar Koninklike Hoogheid, prinses Laika aangespreek word. Op 21 Junie 2025 het haar liggaam ophou werk, maar haar gees bestuur steeds die huishouding en sorg dat alles volgens haar hoë standaarde uitgevoer word.